Skakerings/Ella Hoofstuk 19
Hoofstuk Negentien
‘Sus, is jy regtig seker dat jy nie saam met my en Ella wil Kaap toe gaan nie?’
Gawie se bekommernis lê vlak in sy stem.
‘Nie hierdie keer nie, Boetie. Dis daardie tyd van die jaar en ek het werklik nodig om alleen met hulle te wees.’
Nella verwys na haar gesin. Hulle lywe nou in absentia in hierdie bestaansvlak.
Dit het ʼn jaarlikse ritueel geword waar sy twee weke vir haarself toe eien en die tyd wat hulle met haar gedeel het, herdenk. Sy onttrek van alles en almal en onthou hulle dan in al die skakerings van emosie. Haar hartseer is nie iets wat sy vir ander se beskouing en ontleding of troos blootlê nie.
Gawie verstaan dit en dring nie verder aan nie. Hy weet dat dit vir haar belangrik is, die onthou en herdenk wat op ongeskonde oomblikke afgedruk word, sodat die pyn en verlies van die verlede kan vervaag en net die mooi en dankbaarheid vir dit wat hulle wel saam gehad het, die hier en nou beklee.
Hulle sit in die ou plaaskombuis, die geselsvlak van baie jare.
Hulle pa wat onlangs die hede met die ewige verwissel het is ook nie meer deel van die tafel-gesprekke nie.
Die afgelope paar maande het soveel aanpassings gebring. Sy verhouding met Ella wat so vinnig voete gevind het en in die tydperk gegroei het. Die veranderinge wat in sy lewe ingetree het as gevolg van sy pa se heengane het meegebring dat hy nou voltyds boer en ook sy praktyk hanteer. Die kantoor op die plaas het meer en meer ʼn belangriker rol in sy lewe begin speel.
Ella se uitstalling waaraan sy soveel maande gewerk het is ook in die tyd voltooi en hy het intiem bewusgeraak van die patrone wat sy in haar lewe nodig het om te funksioneer, te bly skep. Nooit het sy hom egter onwelkom laat voel, of bygedra tot die addisionele verantwoordelikhede wat op sy skouers kom rus het nie.
Die huisie by die rivier waarin sy nog steeds bly en uit skep het vir hom ook ʼn stille hawe geraak. Dit was ʼn oase waarheen hy partykeer gevlug het om net asem te haal, weer sy batterye te laai en moed te skep vir die volgende hoop werk wat hy onder knie moes kry.
Partykeer het sy aangehou met werk terwyl hy daar was, dan het hy hom tuisgemaak op die stoep of onder by die rivier en ʼn tydjie vir homself toe geëien. Later wanneer haar muse gaan rus het, het sy dan by hom aangesluit en hulle het koffie gedrink of ʼn glas wyn in stilte geniet. Hy het die proses as buitestaander beskou wat sy gebruik het om te skep, die ure se werk en gefokusde aandag. Hy het hom verwonder aan die denke wat soveel beelde uit haar kop kon tower.
Partykeer het sy musiek deur die huis laat golf, saamgedans en haar net aan die ritmes en klanke van ander kunstenaars se denke oorgegee.
Jan het ʼn integrale deel van Ella se wêreld geword. Sy het nie baie oor haar verlede gepraat nie maar die liefde wat sy op die klein seuntjie uitgestort het, het hom partykeer onvankant gevang. Dan hy het stilgestaan en hulle net betrag, die twee siele wat gewoonlik kop bymekaargesit het en oor iets gepraat het, of Jan wat skielik gekraai het van die lag.
Jan het sonder enige huiwering sy hart vir Ella oopgemaak en sy armpies om haar nek gegooi en met ʼn luide ‘my mamma!’ gegroet’ toe hulle hom inlig dat hulle paadjies nou gaan saamsmelt.
Sy suster en Ella het vinnig ʼn patroon gevind waarin altwee kon beweeg sonder om mekaar bedreig te laat voel. Nella, nou mede-eienaar van die plaas saam met haar broer, het nog steeds die huishouding hanteer asook die personeel in en om die huis en die administrasie van die boerdery.
Ella het net soos gewoonlik aangegaan met dinge en Nella het nie aan haar gekrap of getorring omdat sy anders was nie.
Wanneer sy tussen skeppings by Gawie op die plaas oornag het, het hulle in die ou patrone van saam-eet, Jan se storietyd in die sitkamer en dan musiek luister ingeval. Gawie het sy kennis aan Ella oorgedra wat die wyne aanbetref en die drie grootmense het in die aande hulle samesyn waardeer. Jan het van die begin af aanvaar dat Ella partykeer by die riverhuisie sou wees en ander kere weer by hulle op die plaas.
Gawie het gewonder of hy verlate sou voel, maar hy het situasie goed hanteer. Ewe grootmeneer vir almal wat stilgestaan het om te luister, vertel dat sy mamma besig is om prentjies te maak. Jan was nie meer die weggooikind nie. Hy was nou hulle kind.
Hierdie oase van vrede was duidelik aan almal wat met hulle in aanraking gekom het.
Gawie het besef dat indien hy ooit vir Ella op die plaas wou hȇ, hy vir haar ʼn plekkie sou moes skep waarheen sy sou kon onttrek.
Met hierdie gedagte in sy kop het hy sy oë gehad op ʼn perseel teen die koppie wat naby aan die ou plaashuis gelê het. Die uitsig was asemrowend en hy het begin om vir Ella ʼn huis te ontwerp. Hy het met al die kuiers aan haar huis gesien wat vir haar belangrik was en nodig vir haar om te kan skep. Hy het besluit om dit vir haar as trougeskenk te gee. In die stilligheid het hy haar huisie laat bou. ʼn Integrale deel van die ontwerp was ʼn rotspoel met ʼn uitsig oor die plaas wat direk in lyn was met die voorstoep van die ou plaashuis. Intussen het hy ook nog die jaar se oes op hande gehad asook die wynbemarking.
Hierdie twee weke wat hy en Ella saam Kaap toe gaan om haar uitstalling by te woon is ʼn kosbare eiland van tyd in die besige skedule wat hy deesdae moet handhaaf. Hy het lankal besluit om ook die befaamde wynveiling by te woon wat saamval met die glansgeleentheid in Franschoek waar Ella se werk die kollig sal geniet.
Van hulle plaas se wyne is ingeskryf as items op die veiling en sal vir hom ʼn aanduiding gee van die bemarkbaarheid van dit wat hy gaan beskikbaarstel.
Onder andere, ʼn diep-rooi jerepigo wat die pronkwyn van hulle kelder is. Hy het etikette laat druk met een van Ella se kleurvolle landskappe as illustrasie en dit is nog ʼn verrassing wat hy vir haar tot die veiling wegsteek. Hy het wel haar toestemming gekry om die kunswerk te gebruik na sy dit as geskenk aan hom gegee het. Sy is besonder lief vir die jerepigo en het hom keer op keer gesê dat dit hulle liefde vir mekaar is - vloeibaar in ʼn bottel. Hy het daarvan gehou dat hy die wyn gemaak het en sy die kunswerk wat op die etiket verskyn.
Die stuk het sy een dag geskilder nadat hulle die koppie uitgeklim het. Hulle het die bakkie gestop by die populierbos aan die voet daarvan. Die stroompie wat rustig deur die bos gekabbel het se oorsprong was te vinde by die fonteintjie hoër op. Ella se verwondering in die mikroklimaat wat as gevolg van die fonteintjie ontstaan het, was een van die hoogtepunte van daardie dag. Sy wou met alle mag en krag die fonteintjie besoek waar dit tussen die rotse uitgeborrel het en dan teen die rotswand na onder afgedans om tussen die populierbos deur te kronkel op soek na die see.
Hulle het die rotse tot by die fonteintjie uitgeklouter. Asemskep-plek gesoek op die plat rotse en hulle in die vars water en asemrowende uitsig verlustig. Die geluide van voëls was oral soos hulle ook die water besoek het. Ella se genot was vir hom een van die mooiste oomblikke wat hy ooit saam met haar ervaar het.
Hulle het langs mekaar op die rotse gesit, gekyk na die plaashuis in die verte, die landerye wat voor hulle uitmarsjeer het met die populierbos as blinkblaarmatras hier aan hulle voete.
Net daar het die gedagte by hom posgevat. Hier gaan hy haar huisie bou. Hy sal vir haar ʼn rotspoel skep sodat sy soos die Karoo-meermin kan swem en die aande met hom kan deel, al is hulle in twee huise. Die afstand tussen hulle wat gevul is met die druiwestokke sal hy wegtower in ʼn see van wyn en met sonsondergang sal hy en sy saam wees en ʼn heildronk drink om hulle liefde vir mekaar te vier en te bevestig.
Hy het die beeld so duidelik in sy gedagtes gesien dat hy vervoer was in sy denke. Ella het opgemerk dat hy diep in gedagte was en het hom nie gepla met ontydige opmerkings nie. Net stil die oomblikke met hom geniet.
Gawie het op daardie oomblik sy muse ontdek. Ella was syne. Vir haar gaan hy ʼn kunswerk bou. Vir sy Ella. Haar eie bergparadys.
Nella staan voor hom met die koffiekan.
‘Gawie?’
Hy kyk op na haar, die oomblik in sy kop vervaag met die hede se klanke.
‘Skuus, Nella. Ek het in my kop rondgeloop.’
Hy glimlag vir haar en hou sy beker uit na haar.
‘Het jy die wynhandelaar in die hande gekry wat ons by die veiling gaan verteenwoordig?’ vra sy.
‘Ja, ʼn baie interessante man. Nogal ʼn Italianer soos dit my klink. Hy koop wyne aan vir verskillende handelaars en privaat-versamelaars van regoor die wêreld. Ella ken hom goed en hy gaan ons ook daar ontmoet. Hy is baie tevrede met dit wat ek vir hom gestuur het as voorbeelde vir hom om te proe. Ek dink ons gaan redelik goed oor die weg kom. Om die waarheid te sê, hy het belowe om my voor te stel aan ʼn vriend van hom wat ʼn boekhandelaar is. Hy gaan saam met hom die veiling bywoon en ek kan hom nader om pappa se versameling te kom evalueer sodat ons die versekering in plek kan kry. Die man is ʼn kenner op sy gebied met net soveel verwysings as Massimo.’
‘So hierdie is nie eintlik `n vakansie vir julle twee nie, is dit? Meer werk as enigiets anders,’ merk Nella op.
‘Ja, maar dis lekker werk die. Ons kan rondloop en werk en alles terselfdertyd geniet,’ lag hy.
‘Ons gaan by Rhea, Ella se vriendin aan die Weskus oorbly en nog kanskry om vis ook te vang! Ek het vir ons akkommodasie bespreek op die landgoed waar die uitstalling en die veiling plaasvind. Hulle het kothuisies beskikbaar gehad. Ons sal ʼn aand of twee daar oorbly en dan die veiling die volgende dag bywoon. Indien ons meer tyd daar wil spandeer, het die eienaars ons ʼn opsie vergun om aan te bly so lank as wat ons wil. Dan gaan ons weer terug na Rhea se huis toe sodat Ella kans kan kry om ook bietjie met haar te gesels. Ek dink daardie twee smag reeds na mekaar vir ʼn goeie kuiersessie,’ lag Gawie.
Rhea en Ella se gesels-sessies het al hoe minder geword met die druk van die naderende uitstalling en die tyd wat Jan en Gawie nou van haar in beslag neem. Dis maande vandat hulle werklik ure met mekaar kon spandeer. Rhea se kuiers aan die Klein Karoo was ook tydelik van die baan af met die wat Scott nou ook ʼn gedeelte van haar vrye tyd opgeeis het.
Hy is ook een van die kunstenaars wat genooi is om hulle werk by die baie gesogde geleentheid te kom tentoonstel. Ella is totaal en al onbewus daarvan dat Rhea as model opgetree het vir die stukke wat hy gaan uitstal. Sy en Scott het besluit om eers vir haar na die uitstalling te sê want dit sou soveel vrae ontlok het wat net haar aandag van haar eie werk sou aftrek. Na die onthulling sal daar wel tyd wees vir gesels en die drade van vriendskap weer bymekaartrek.
‘Hoe laat gaan julle vertrek?’ vra Nella.
Sy het vir hulle padkos gepak en gesorg dat Jan se goed ook in orde is en geniet nou net hierdie laaste koffie saam met hom. Jan is nog in die kamer besig met Siena en Lena wat hom aantrek en regmaak vir die groot opgewondenheid. Sy oë kon nie ophou blink vandat hy gehoor het hy gaan saam see toe nie. Ella en hy het al ure gesels oor branders en strand, rotspoele en krappies en vissies en seesterre. Sy opgewondenheid is ingeryg soos pêrels wat hy tasbaar om sy nek dra en vir elkeen uithaal om te wys en te bewonder.
Hy en Pappa gaan visvang!
‘In die volgende halfuur. Ek moet nog vir Ella gaan oplaai en dan vat ons die pad. Die kuns is eergister al weg en ons moet net aankom met onsself en ons bagasie.’
Met die, kom Jan uit die kamer uit, hardloop-skaats die gang af en peil reguit af op Nella.
‘Tant Nella, tant Nella, ons gaan see toe!’
Hy borrel van opwinding en Nella lag terwyl sy hom optel vir ʼn vinnige drukkie en soentjie.
Gawie lag net want die wysie het hy die afgelope week baie kere gehoor. Hy begin hulle goed motor toe dra en laastens kom hy terug om die padkos te vat en vir Nella te groet.
‘Jy`s regtig okay sonder my?’ vra hy.
‘Nee, maar ek wil alleen wees. Ek is nooit okay sonder jou nie, Boetie!’
Hy trek haar teen hom vas in ʼn drukkie wat baie meer sê as die onuitgespreekte woorde wat in blink trane opwel in haar oë.
‘Gaan en geniet dit. Jy en Ella verdien die tydjie saam. As sy net weet van alles wat jy vir haar beplan sal sy seersekerlik jou kop vir jou was, maar ek wil hê julle moet dit alleen gaan doen. Nou is my tyd vir my onthou. Lief jou, Boeta.’
Sy druk hom van haar af weg en pik ʼn soentjie op Jan se kop.
Sonder enige verdere woorde stap hulle na die motor toe. Gawie sit vir Jan in sy stoeltjie en maak die gespes vas. Hy klim in en met ʼn wuif vertrek hy en Jan.
Posted Jul 10, 2026, 5:56 PM UTC · locked